Persarchief
Een verzameling artikelen die in de pers zijn verschenen. Mocht jij artikelen hebben of tegenkomen die niet opgenomen zijn op deze pagina, word je vriendelijk verzocht om even een mailtje te sturen. Mede door jouw hulp kunnen we deze pagina dan uitbreiden...
Sommige artikelen kunnen nog scan-foutjes bevatten. Kom je ze tegen, laat het even weten!
Spasies
vrijdag 08 augustus 2008, Burger, Cornelia leroux
Bos verken ‘spasies’ van hart en siel
07/08/2008 10:46:39 PM - (SA)
Port Elizabeth. - “Soms moet ’n mens spasies ingaan wat jy nie weet nie.”
Stef Bos, die Vlaams/Nederlandse sanger en
kabaretkunstenaar, pen my vas met sy fletsblou oë. Agter hom spring “de
zon en de zee bliksemend open, waaiers van vuur en zij” soos in Hendrik
Marsman se gedig Antelopen.
Ons sit by ’n kuierplek op die Baaise strandfront ná
sy vertoning Saam Dinsdagaand in die Operahuis. Dié vertoning is die
eerste keer in 7 jaar wat hy weer met sy band – Martin de Wagter
(tromme en perkussie), Roberto Mercurio (baskitaar) en René van Mierlo
(kitaar) – met oorwegend nuwe liedjies toer.
Bos het beslis in die 15 jaar sedert hy soos ’n
avonturier van ouds hier “aangeland” het, die spasie van die
Suid-Afrikaner-hart begin karteer en regeer met sy sielvolle chanson s.
Die “spasie” waarna hy egter verwys, is Port
Elizabeth en dié se grande dame van die uitvoerende kunste – die
statige Operahuis uitgevat in haar rooi fluweel.
“Port Elizabeth is ’n ongelooflike plek wat ek nooit vermoed het,” vervat hy in sy aksent wat soos musiek op ’n mens se ore val.
Maar dit is die energie en gevoel van die Operahuis
wat Stef veral in vervoering het. “Dit is beslis een van die mooiste
plekke waarin ek nog gespeel het. Dis een van daai plekke waar jy die
spoke hoor loop,” kom dit driftig terwyl hy met sy bruingebrande hande
beduie en op sy Moleskin-dagboek klop.
Ek kry hoendervleis.
Gisteraand se atmosfeerryke Bos-lied “Gebed”, wat
eindig met ’n skip vol dooie matrose wat iewers op die groot see
ronddobber, speel weer voor my geestesoog af en eggo in my ore. Dit
begin met ’n onthoofding in Batavia en maak ’n draai deur Dan Sleigh se
Eilande. Die kop begin praat . . .
Vir Dan Sleigh het Bos die grootste bewondering.
“Hy is in sy eie spasie. Dit is vir my wonderbaarlik dat ek iemand sien en voel dáár wil ek eendag wees. Waar hy is in sy kop.
“Hy is die vliegie op die muur wat doodgelukkig is
omdat hy die vlieg is. Hy wil niks meer as om gewone mense se stories
neer te skryf en te vertel nie. Oor goed soos die liefde en mense wat
gewoon gemors aanjaag!”
Vliegie op die muur speel, is natuurlik vir dié man
wat musiek “liefde maak op ’n spirituele vlak” noem, ’n
gunsteling-tydverdryf om stof tot nadenke te oes. Voor hy weer in die
ruimtes van sy kop swerf. Dié kop wat praat . . . en sing en sing en
sing.
< Terug